Kom geniet ‘n Poeding, port en poësie-aand met drie gewilde Afrikaanse kunstenaars op Woensdag 14 Augustus, Taaldag, in die Paarl. Dit word aangebied deur die Wynland Dameskring in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en –monument.
Die bekende akteurs Johann Nel en Elsabé Daneel sal van hul gunsteling Afrikaanse gedigte voordra, onder andere uit die bundel Gewildste Afrikaanse Gedigte.
Die sanger Emile Minnie sal toonsettings sing van sy album “Spore op die Maan”, ’n versameling Afrikaanse gedigte wat voorgeskryf is vir graad 12 leerders. Hy sal ook liedjies sing van sy nuutste album “Anderkant die Ewigheid”, sowel as Franse liefdesliedjies van sy album “Chanson”.
Minnie word deur Laurika Rauch, wat al drie van sy liedjies opgeneem het, beskryf as een van Suid-Afrika se top liedjieskrywers. Sy “Nagmusiek” CD is genomineer vir 'n SAMA vir beste alternatiewe Afrikaanse album, hy was onder die top 3 in die Huisgenoot Tempo Liedjiekompetisie, genomineer vir ‘n Kanna by die KKNK, en ‘n finalis in die ATKV Crescendo kompetisie.
Taaldag word jaarliks op 14 Augustus gevier om die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 te herdenk. Die GRA het hul daarvoor beywer om Afrikaans as lees- en skryftaal te vestig en het die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1876 gepubliseer.
Kaartjies is teen R50 beskikbaar by die Dameskring (tel. 021 872 9602 of 072 2196 420). Die kaartjieverkope is ten bate van die Dameskring se beursfonds vir behoeftige Afrikaanse studente.
